Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Alta Cloete

@ Sunday Times Books LIVE

’n Paar voorstelle vir die vakansie

eMajuba

Beseringstyd

 

 

 

 

 

 

 

Eendag op 'n MaandagStilettos van staal

 

 

 

 

 

 

 

http://naledibooks.co.za/books/emajuba/

http://naledibooks.co.za/books/beseringstyd/

http://www.lapa.co.za/product-view/1087/eendag_op_n_maandag

http://www.lapa.co.za/product-view/1105/stilettos_van_staal

Die dooies leef – SD Fourie

SD Fourie is iemand wat die Strandveld en sy mense deur en deur ken. Ek was nie verbaas om op die flapteks te verneem sy is ʼn toergids en besit haar eie museum op Franskraal nie. As dokument van ʼn vergange tyd in daardie streek en veral die lewe op die plase, is Die dooies leef net so waardevol soos sy voorganger, Die lanternswaaier.

Die dooies leefHoewel die boeke apart gelees kan word, volg hulle wel op mekaar. Ek sal aanbeveel dat mens eers Die lanternswaaier lees voor jy Die dooies leef aanpak, of jou geheue ʼn bietjie verfris as jy dit ʼn jaar of drie gelede gelees het. Hoewel daar in Die dooies leef gepoog word om die nodige agtergrondsinligting te gee, kan mens die boek baie meer geniet as jy die eerste een goed onthou.

Die dooies leef is basies Hanna, ʼn nakomeling van Sophie in Die lanternswaaier, se poging om sin te maak van haar familiegeskiedenis en haar lewe as enkeling wat nooit voel sy behoort regtig êrens nie. In die proses ontdek sy dat sy in dié opsig nie alleen is nie en kom sy ook tot groter begrip vir mense wat sy tevore veroordeel het. Die fyn draad van romanse wat deur Hanna se storie geweef word, verskaf ʼn ligter kant aan ʼn andersins sombere verhaal.

Die dooies leef werk met die begrip dat mense voortleef deur hul nageslag; dat ons nie werklik enkelinge is nie, al voel ons ook so. Die verhale van die verskillende geslagte word ingeweef in die wêreldgebeure van elkeen se tyd (veral die twee wêreldoorloë) en laat mens met die gevoel dat jy deel is van ʼn groter geheel. Die diepgesetelde behoefte aan liefde en aanvaarding en om te behoort, loop deur Sophie, Maryna en Hanna se verhale. Die rassesituasie op die plase word ook aangespreek – aan die een kant die afstand wat daar bestaan, aan die ander kant die versorgende rol wat veral die bruinvroue dikwels in die wit kind se lewe speel wat nie binne haar eie kring werklik aanvaar word nie.

Mens hoop daar kom nog stories van die Strandveld uit SD Fourie se pen.

Boek en Koek: Seisoen van lig en donker

Boek & Koek

Uittreksel: Seisoen van lig en donker

Wat sou haar so vroegSeisoen4 wakker gemaak het? Miskien was dit bloot die stilte, sy is al gewoond om die eerste nag op die plaas effens onrustig te slaap. Dis mos kompleet of die stilte om jou raas, asof die sterre té geluidloos voortgly op hul baan oor die huisie in die kloof.

Dis nie dat sy nie lekker lê nie. Nee, in hierdie ou houtkateltjie lê sy altyd lekker, hiervandaan lyk die bedreigings van die lewe altyd veraf en onskadelik. In hierdie bed kon sy dit nog altyd waag om te droom, om meer te wees as Liesel van Zyl, die inkennige en wederstrewige kind van seker die twee ordentlikste mense op aarde. Onder die verbleikte ou lappieskombers laat sy haarself soms toe om dwase drome te droom oor dinge wat haar nie beskore is nie, drome vol lig en lewe en onbesorgde liefde, drome sonder die donkerte wat maar altyd op haar spoor is.

In die diep stilte van die Karoo hoor ʼn mens dinge wat in die gewone lewe by jou verby gaan. Veral in die betowerende uur voor dagbreek, die uur waarin slaap en wakker, werklikheid en fantasie alte maklik soos weerkaatsings in die swempoel bo in die kloof oor mekaar en deur mekaar gly. So het sy van kleintyd af met kuiers op die plaas soggens ʼn uur of wat tussen droom en werklikheid bly luier, gerus gestel deur die bekende kraakgeluidjies van die dubbelbed anderkant die dun skeidsmuur, later die stampgeluide wanneer haar pa opstaan en nie regtig daarin slaag om dit saggies te doen sodat haar ma nog ʼn bietjie kan sluimer nie.

Nou assosieer sy haar ouers lankal nie meer met sekuriteit nie. Nee, sy het te vroeg reeds geleer hulle is ook maar net mense, ook feilbaar soos die res van die mensdom. Maar hulle was nog altyd daar vir haar, al was dit nie meer vir haar genoeg nie. Onbegrip en misverstand het hulle dikwels geskei, ja, maar nooit was die versperring dikker as die muur tussen die twee kamers in die winterhuisie in die Karoo nie.

Dofweg hoor sy vir Herman in sy slaap mompel, nog ʼn keer omdraai in die dubbelbed wat hy altyd met kitaar en al oorneem wanneer hulle drie hier kuier. Sou hy dan ook al wakker wees? Hy is gewoonlik die laatslaper, veral die eerste oggend. Sou hy fantaseer dat Jennifer by hom in die bed is? Sou hy Jenni se slapende beeld in sy kop hê – soel en soet met die wimpers gesluit bokant die wangbene waarop sy, Liesel, van kleins af so jaloers was? Sou hy vir Jenni sien soos sy hom nou in haar verbeelding sien? Ontspanne, sonder die gewone vitaliteit en onvoorspelbaarheid, dalk op die sy gedraai, bene opgetrek in die fetusposisie, ʼn kinderlike hand onder die wang?

Nee, liewer maar die oë oopmaak. Drome kan te ver gaan, drome kan jou dalk per ongeluk by die kamerdeur uit volg en jou in die helder daglig in die verleentheid stel. Terwyl haar oë gesluit is, is enigiets moontlik. Maak sy hulle oop, is sy en Jenni en Herman bloot beste pelle wat vir die eerste week van die wintervakansie op haar pa-hulle se Karooplaas saam kuier soos hulle al soveel jare doen. Wat soggens in die eerste son op die stoeptrappies sit met bekers rooibostee en tannie Sunet se anysbeskuit, wat lang ente in die kloof op stap waar hulle kleintyd dikwels in hul onderklere saam in die poele in die seisoenale riviertjie geplas het, wat saans in die asbosskerm braai en ure lank oor die lewe kan gesels, oor hulle drome, hulle frustrasies in die onderwys, die probleme by elkeen se skool.

Maar nooit praat hulle oor die onderliggende spanning tussen hulle nie, die ongelykhede, die vrees vir wat die toekoms mag inhou nie. Veral praat hulle nie oor Jenni se toekoms, oor die swaard van die onnoembare wat haar lewe lank oor haar hang, of oor die hopelose liefde vir haar wat Herman in hom omdra nie.

Die eerste lig sypel deur die blommetjiegordyne en voel met sagte vingers aan die ou hangkas, die twee stoele met haar eie klere netjies en Jenni sʼn in ʼn warboel daarop, die bedtafeltjie met die lamp en hulle kopliggies en hulle versameling leesgoed. Jenni sʼn die liefdesverhale wat sy van kleintyd af verslind, haar eie die dik oorlogromans wat sy verkies, die wroegende, wrede boeke wat nie die lewe kunsmatig versoet nie.

Verder lyk die kamer nog presies soos dit gelyk het toe haar ma destyds hier geslaap het nadat pa Wilhelm haar op die vlakte gekry het, gedaan gestap na die tweede papwiel op die grondpad, haar hemp roekeloos uitgetrek in ʼn oomblik van waagmoed, haar ligte vel verbrand, uitgeput aan die slaap teen ʼn gruiswalletjie langs die pad. Daar het hy haar opgetel en huis toe gebring en rooibostee en tannie Sunet se beskuit gevoer, haar vir die week by hom laat bly en haar gehelp om die eerste tree na emosionele herstel te gee. Hier het hy haar lief gekry en hiervandaan moes hy haar weer laat gaan. En toe die tyd ryp was, het sy teruggekeer na hom.

Liesel sug genoeglik, draai op haar sy en laat haar oë weer loom toegaan. Dit bly maar die mooiste, mooiste storie, dié van haar ouers. Haar pa eensaam hier op die plaas na tannie Vivien padgegee het, ma Lana getraumatiseer deur die ongesonde verhouding met oom Marius, die verlies van twee swangerskappe en die mislukte selfmoordpoging, vasgevang in ʼn dodelike depressie. Wat sou gebeur het as haar ma nie wanhopig genoeg was om haar ou rooi karretjie te vat en sonder om iemand in te lig na haar suster toe te vlug nie? Wat sou gebeur het as tannie Sunet-hulle tuis was? As haar pa nie die een was wat verby gery het, eers die motor sien staan en kilometers verder die rooikop langs die pad sien slaap het nie?

Dinge gebeur soos dit moet gebeur. Anders sou sy nie eens hier gewees het nie, sou sy nie die kans op die lewe gehad het nie. Die vreeslike, wonderlike, skrikwekkende, uitmergelende lewe waarmee sy jare reeds so worstel, maar wat sy ook so lief het. Wat sou sy gewees het? ʼn Ander paartjies se kind? Of bloot ʼn klein stukkie niks in die ruimte van die heelal?

Nee, nee, nie nou al negatiewe gedagtes begin dink nie. Die dag het nog nie eens begin nie. Liewer uit haar warm kokon klim en die houtstoof aan die gang kry, die geel keteltjie met teeblare op die warmplaat skuif. Tien teen een lê Jenni en Herman altwee al en wag vir haar, sy is veronderstel om die vroegopstaner onder hulle drie te wees. Maar eintlik is sy net die dorstigste, haar mond droog van die medikasie waarvan niemand weet nie, haar lyf dikwels moeg gestoei met die deurmekaar drome wat haar sporadies bly teister.

Met die jare het sy maar leer aanvaar sy sal altyd die een wees wat met moeite uit die bed kom en nie regtig ontwaak voor sy ʼn paar koppies sterk koffie in het nie. Niemand weet wat ʼn oorwinning dit elke oggend is om haar voet uit die bed te sit nie. Net hier op die plaas verruil sy die koffie vir rooibostee uit die geel keteltjie op die houtstoof, dis deel van die suiwering wat hierdie week elke jaar vir hulle drie is. Hier is alles makliker, dis of die lyne van die werklikheid sagter gebak word deur die Karoo se milde winterson.

Sy is so moeg om geëtiketteer te word, so sat om in maklike boksies gedruk te word. Die vroegopstaner, die introvert, die weird een, die rooikop, die geslote een wat net by haar leerders en soms by haar twee beste vriende regtig ontdooi. Sy sal sommer nou uit die eerste rol uitskuif, vanoggend gaan sy nie die een wees wat die tee vir die laatslapers aandra nie. “Jen?” roep sy saggies, “Jenni, is jy wakker? Ek is lus vir tee.”

Geen antwoord nie, geen roering uit die oorkantste bed nie. Lui-lui swaai Liesel se oë na die bedjie verste van die venster af, nog in ʼn dieper skemer gehul as haar eie hier vlak onder die raam. Jennifer is nie in die bed nie. Die koue vermoede slaan haar op die maag. Dit het eindelik gebeur: Jen is in Herman se bed. Terwyl sy oor hom lê en droom het, was Jenni in sy arms, het hy … Nee, nee en nogmaals nee.

Verwoed spring sy uit die bed. Sy sal gaan stap, sy sal nie hier wees as Jenni uit die kamer langsaan gesluip kom nie. Sy sal maak of sy niks agtergekom het nie. Sy sal getrou bly aan haar etiket: Liesel wat nie haar gevoelens wys nie, wat haar pad op haar eie manier loop. Net gou badkamer toe gaan, dan sommer in gister se klere spring. Sy kan ver in die kloof op wees voor die son behoorlik op is. Hulle twee kan gerus maar vry solank hulle wil, sy het nie ʼn saak daarmee nie.

Net so in haar bont slaapbroek, oorgroot T-hemp en geliefde ou slaapsokkies strompel sy badkamer toe, haar hare ʼn warboel oor haar skouers, haar oë net halfpad oop, haar gedagtes ʼn kraaines van emosies.

Die oomblik toe sy die badkamerdeur oop stoot, weet sy wat haar wakker gemaak het. Haar pa het die vrees vir daardie reuk van kleinsaf in haar ingeprent. Maar hoekom die deur moeiliker as gewoonlik oopmaak, dring nie tot haar deur nie.

Die badkamer is nog feitlik donker, maar dis nie vir haar nodig vir ʼn kers of haar kopliggie nie. Sy ken elke sentimeter in en om hierdie huis. Of so het sy gedink, maar steeds slaan amper sy neer oor ʼn donker homp op die vloer voor die outydse pootjiesbad waarin hulle drie kleintyd dikwels saam baljaar het. Sou Herman nou wraggies sy twee yslike stewels en al sy klere net hier op die vloer gelos het? Die man is darem alte lekker bederf, dis seker maar wat gebeur as ʼn ma ʼn kind so alleen grootmaak. Amanda verafgod amper haar kind, maar ʼn mens kan haar ook nie eintlik kwalik neem nie. Een kyk van daardie twee bruin oë onder die blonde krulle en dis klaar met jou. Self is sy ook nie onskuldig nie, telkens betrap sy haarself dat sy vir hom iets aandra of doen wat streng gesproke nie regtig nodig was nie. Met Herman kan ʼn mens jouself nie help nie, die engelgesig en die kombinasie van dierbaarheid en befoeterdheid boul jou uit nog voor jy dit besef.

Met alreeds ʼn hol kol op haar maag tree sy verby die stewels en pluk die geblomde katoengordyntjie oop. Nog voor sy terugdraai van die venster af, weet sy al: Dis nie Herman se skoene op die vloer nie. Dis Jennifer wat op die rooikatvelletjie voor die bad lê, in die fetusposisie opgekrul in haar ou geliefde pajamas met die aarbeie op. Haar beste maat, haar grootste kompetisie, haar sielsgenoot, haar ander pool.

Hoe skraal het haar polse nie geword nie, hoe weerloos is die sagte plekkie agter haar oor, die slank lyn van haar nek nie. Weerloos en baie, baie stil.


 

 

LAPA se Lekkerlit-kompetisie vir 2014 skop af!

Lekkerlit 2014Vanaf 15 Augustus 2014 tot 31 Januarie 2015 kies LAPA Uitgewers elke maand ’n Lekkerlit-boek, of twee. Daar sal ’n mengsel wees van spanning, romanse en avontuur.

Net een boek sal wegstap met die titel LAPA Lekkerlit-boek van die jaar.

LAPA glo lesers en skrywers stap hand aan hand: daarom wen die Lekkerlit-boek van 2015 se skrywer R5 000, een gelukkige ATKV-leser R2 500 kontant én een Facebook-deelnemer ook R2 500 kontant.

Hoe neem LAPA se Facebook-gemeenskap deel?

  • Leser moet asseblief LAPA se Facebook-blad LIKE sodat hulle die aankondigings kan kry.
  • LAPA sal elke maand die Lekkerlitboek(e) en ’n vraag oor die boek(e) op LAPA se Facebook-blad aankondig.
  • Lesers beantwoord ’n vraag uit die boek en e-pos die antwoord na marib@lapa.co.za.
  • Deelnemers wat die vraag korrek beantwoord, sal outomaties in aanmerking kom vir die geluktrekking van R2 500 kontant aan die einde van Februarie 2015

Die Lekkerlit-boeke wat gekies is:

  • Augustus = Slim leuens (Lien Roux-de Jager) + Seisoen van lig en donker (Alta Cloete)
  • September = Donker spoor (Martin Steyn)
  • Oktober = Stilleto’s van staal (Bernette Bergenthuin)
  • November = Ewebeeld (Chanette Paul)
  • Desember = Die 13de kaart (Madelein Rust)
  • Januarie = Waar boosheid broei (Peet Venter)

In Februarie sal deelnemers die kans kry om te stem vir hulle gunstelingboek.

Op 1 Maart gebeur die volgende:

  • Die Lekkerlit-boek en -skrywer word aangekondig
  • Die ATKV-wenner word aangekondig
  • Die Facebook-wenner word aangekondig

As jy nog nie LAPA se Facebook-blad ge-LIKE het nie, gaan doen dit dadelik by: https://www.facebook.com/LAPA.Uitgewers?fref=ts

Lekkerlit 2014 skop af!

Lekkerlit 2014Vanaf 15 Augustus 2014 tot 31 Januarie 2015 kies LAPA Uitgewers elke maand ’n Lekkerlit-boek, of twee. Daar sal ’n mengsel wees van spanning, romanse en avontuur.

Net een boek sal wegstap met die titel LAPA Lekkerlit-boek van die jaar.

LAPA glo lesers en skrywers stap hand aan hand: daarom wen die Lekkerlit-boek van 2015 se skrywer R5 000, een gelukkige ATKV-leser R2 500 kontant én een Facebook-deelnemer ook R2 500 kontant.

Hoe neem LAPA se Facebook-gemeenskap deel?

  • Leser moet asseblief LAPA se Facebook-blad LIKE sodat hulle die aankondigings kan kry.
  • LAPA sal elke maand die Lekkerlitboek(e) en ’n vraag oor die boek(e) op LAPA se Facebook-blad aankondig.
  • Lesers beantwoord ’n vraag uit die boek en e-pos die antwoord na marib@lapa.co.za.
  • Deelnemers wat die vraag korrek beantwoord, sal outomaties in aanmerking kom vir die geluktrekking van R2 500 kontant aan die einde van Februarie 2015

Die Lekkerlit-boeke wat gekies is:

  • Augustus = Slim leuens (Lien Roux-de Jager) + Seisoen van lig en donker (Alta Cloete)
  • September = Donker spoor (Martin Steyn)
  • Oktober = Stilleto’s van staal (Bernette Bergenthuin)
  • November = Ewebeeld (Chanette Paul)
  • Desember = Die 13de kaart (Madelein Rust)
  • Januarie = Waar boosheid broei (Peet Venter)

In Februarie sal deelnemers die kans kry om te stem vir hulle gunstelingboek.

Op 1 Maart gebeur die volgende:

  • Die Lekkerlit-boek en -skrywer word aangekondig
  • Die ATKV-wenner word aangekondig
  • Die Facebook-wenner word aangekondig

 

 

 

 

 

Spesiale aanbod slegs vir 14 Augustus!

Koop-n-Afrikaanse-Boek-14-Augustus

Igna Klynsmith – Wat sê die prokureur?

Wat sê die prokureurRegsake is seker van die heel onderste items op my lysie van belangstellings. Ek vermoed daar is dalk duisende soos ek wat maar net hoop hul kry nie eendag gespesialiseerde regskennis nodig nie. En wat reken die hof is ‘n plek waarvan gewone mense liewer moet wegbly.
Wat sê die prokureur? word al so lank op RSG aangebied dat baie luisteraars ten spyte van ‘n gebrek aan belangstelling al teen wil en dank ‘n stukkie regskennis hier en daar opgedoen het. Igna Klynsmith se kalm stem het al baie gedoen om die reg vir talle leke so ‘n titseltjie meer toeganklik te maak.
Die boek wat uit die een en twintig jaar se programme saamgestel is, is ‘n aanwins vir al die siele wat eintlik niks van regsake wil weet nie, maar tog diep binne-in vrekbang is mens kry dit dalk êrens nodig en dan duik jy in die hek weens jou onkunde. Hier het jy nou ‘n yslike klomp gespesialiseerde inligting tussen twee vrolike oranje buiteblaaie saamgebind – vir ingeval jy dit eendag moet lees.
Net vir die lekker is daar ‘n interessante afdeling ingevoeg met kort stories oor beroemde/berugte Suid-Afrikaanse gifmoordenaresse, ‘n paar hofsake wat die wêreld verander het (o.a. Jesus se verhoor en dié van Nelson Mandela) en ‘n paar interessante sake uit die tyd toe – ongelooflik soos dit vandag mag klink – diere wel soos mense in die hof gedaag kon word, asook ‘n paar besondere hofsake.
Afdeling B verskaf die pitkos. Vele sake word aangeraak wat wel alte dikwels regskennis van die leek vereis. Kort, saaklike en heel verstaanbare antwoorde word gegee. Ook hier is Igna se stem herkenbaar en hier en daar skyn ‘n sprankie humor in die droë regsomgewing.
Huweliksreg, grondregte en regsaspekte van aftreeoorde en tyddeel word redelik breedvoerig bespreek. Talle relevante vrae word hier beantwoord. Ander sake wat aangeraak word is plantereg, uitsettings, strafreg, vuurwapens, musiekreg, boedels en testamente.
Die keurige uitleg met duidelike opskrifte en onderafdelings werk mee om die boek vir die leek toeganklik te maak.
‘n Welkome toevoeging is die voorbeelde van ‘n lewende testament, ‘n diensooreenkoms vir huiswerkers en ‘n saamwoonooreenkoms wat in die boek ingesluit is. Soveel van ons weet hierdie dokumente is eintlik nodig, maar weet net nie waar om te begin nie.
Wat sê die prokureur? is ‘n baie welkome toevoeging tot RSG se groeiende reeks publikasies en kan ‘n gerusstellende teenwoordigheid op mens se boekrak wees.
Lesers wie se belangstelling deur die boek geprikkel is, kan gerus ook na ‘n paar potgooie uit die program gaan luister by www.rsg.co.za met die sleutelwoord regsake.
Die boek is keurig uitgegee deur Naledi en by alle goeie boekwinkels te kry.

Goeiemore, Mnr. Mandela – Zelda la Grange

Goeiemore, mnr MandelaSoos die meeste Suid-Afrikaners was hierdie leser ook vaagweg bewus van die aantreklike jong witvrou aan Madiba se sy. Van tyd tot tyd het mens hulle in die pers gesien; die bejaarde swartman en die stralende blondine, dikwels met sy hand stewig in hare. Toe dit bekend word dat sy ‘n boek geskryf het oor haar tyd saam met hom, het dit ook my verbeelding aangegryp.

Die boek was nie vir my ‘n maklike lees, soos ek lesers daarvan hoor sê het nie. Dis ‘n lang dokument en daar is baie detail. (Op sommige plekke sou mens weer meer detail wou hê. Hopelik weet die skrywer niemand kan ooit almal plesier nie!) Dis nie altyd ‘n opwindende boek nie en vir my het dit beter gewerk om rustig en stuk-stuk daaraan te lees. Dit het uit die aard van die saak nie ‘n spanningslyn wat mens dwing om om te blaai nie, wat sommige lesers die woord “vervelig” laat gebruik het.

Madiba ZeldaVervelig het ek dit beslis nie gevind nie. Hartverskeurend, ja. Dis al dae sedert ek dit klaar gelees het en die gevoel van diep weemoed bly steeds oor my hang. Hopelik sal dit later vervaag en die herinneringe aan al die mooi belewenisse meer prominent word, soos dit hopelik ook vir die skrywer sal word. Maar vir die oomblik bly die beeld van die siek ou man wat van sy regterhand afgesny is en moontlik gevoel het sy laat hom in die steek, onverbiddelik by my.

Daar is egter talle ligte oomblikke en voornemende lesers hoef nie op ʼn tranedal voorbereid te wees nie. Madiba se humor skemer dikwels deur en talle staaltjies bly die leser by.

Mense verskil of dit ‘n biografie is of nie. Volgens my definisie is ‘n biografie ‘n boek waarin detail oor ‘n persoon se lewe nagevors is en dan bespreek word met insette van verskillende partye, dalk interpretasie uit verskillende hoeke, tot ‘n mate van emosie gestroop. Vir my maak dit nie saak wat hierdie boek is nie, dis die egtheid wat daaruit spreek, wat my aangryp. As dit dan ‘n biografie moet wees, is dit sekerlik een van Zelda sowel as van Madiba. Eintlik is dit bloot ‘n vertelling uit haar oogpunt van haar tyd saam met hom. Ek dink nie dit moet as meer of minder as dit gelees word nie. (Ek wens ons kon dieselfde vertelling van sy kant af hoor. Hy moes sekerlik kwaliteite in haar raakgesien het waarvan sy self moontlik onbewus was.)

Vir my is dit ‘n amperse sprokiesverhaal met ‘n baie onwaarskynlike held en heldin. ‘n Held en heldin wat ‘n paar dekades gelede skaars met mekaar sou kon praat, wat nog te sê hande vashou in die openbaar. Zelda kom na vore as die verpersoonliking van ‘n paar miljoen wit Afrikaners wat met vrees gewag het vir die “terroris” om uit die tronk te kom en toe – aanvanklik teensinnig – moes sien hoe hy haar versperrings een vir een afbreek met doodgewone, outydse goedheid.

Van die aangrypendste dele van die boek was vir my haar verwarring aan die begin, die impak wat sy persoonlikheid op haar gehad het en die geweldige skuldgevoel wat sy ervaar het dat hierdie goeie man deur haar mense soveel leed aangedoen is. Stadig is sy eenvoudig ingetrek deur sy persoonlikheid en sy integriteit, tot sy bereid was om haar totale jongmeisielewe vir hom op te gee.

Hierdie leser het redelik gou na sy vrylating ‘n bewonderaar van Madiba geword. Dis lankal my hipotese dat as hy ‘n kort persoon met ‘n kleinmannetjiesindroom was, hy daardie dag op die Parade ‘n boodskap van konfrontasie kon gelewer het. Maar Nelson Mandela was ‘n lang, aantreklike man sonder enige minderwaardidheidskomplekse wat sy oordeel kon benewel, inderdaad iemand van koninklike afkoms wat dit nooit vergeet het nie. Uit hierdie posisie van krag het hy dit in homself gevind om voor te loop op ‘n pad van versoening en geregtigheid.

Nee, ‘n engel was hy beslis nie. Nog minder ‘n klein godjie. (Een van die kosbare aanhalings in die boek lui min of meer so: “‘n Heilige is ‘n sondaar wat aanhou probeer.”) Maar dat hy ‘n besondere mens met besondere insig was, kan niemand ontken nie. Hierdie boek toon hoe hy dit in homself gevind het om die verlede agter te laat, vorentoe te kyk en alles moontlik te doen om die hele Suid-Afrika met hom saam te neem.

As daar een woord is wat ek uit hierdie boek onthou, is dit die woord respek. Telkens kom die woord na vore in die gesprekke en belewenisse wat sy saam met hom het. As ons as nasie maar daardie één woordjie ter harte kon neem, sou dit al soveel beter met ons gegaan het.

Die storie van Zelda la Grange en Nelson Mandela is ‘n amperse sprokiesverhaal met ‘n baie hartseer einde. Dit is ons verantwoordelikheid om verby daardie hartseer einde te leef en die goeie te onthou en toe te pas.

Dis my mening dat die boek moontlik vir sommige lesers vervelig kan wees omdat daar geen sensasie in is nie, geen lakenkaskenades nie, geen skandale wat oopgevlek word nie. Selfs teen die einde van die boek word daar nie modder gegooi nie en behou mens die gevoel dat ook die familie se optrede bloot menslik was en spruit uit die bagase wat hulle ook maar met hulle saamdra.

Vir hierdie leser is Goeiemôre, Mnr. Mandela ‘n boek wat elke Suid-Afrikaner moet lees en vir sy kinders bêre. Dis ‘n storie van liefde en respek wat grense afgebreek en verhoudings gebou het. Dis die storie van wat met blote goedheid en integriteit gedoen kan word.

Ten spyte van die ongelukkige taalfout in die titel is die Afrikaanse uitgawe keurig vertaal deur Tinus Horn en oor die algemeen goed versorg.

Dankie, Zelda! (Nee, ek ken haar nie persoonlik nie en ek kry ook nie kommissie nie.)

Wenners van die KliekClick-skryfkompetisie!

 

Banier

 

Kontakpersoon: Samantha Buitendach

Kontakbesonderhede: sam@buitendach.co.za /    https://www.facebook.com/kliekclick

 Kliekclick-wenners aangekondig

 ’n Verliefde smurfie loop weg met die eerste prys.

 Hier volg die uitslag van Kliekclick se skryfkompetisie vir kinderstories.

Skrywers kon inskryf in die kategorieë, bangmaakstories, snaakse stories en liefdesverhale.

Stories is beoordeel op grond van oorspronklikheid, kreatiwiteit en vermaaklikheid.

Talle oorspronklike Afrikaanse stories is ontvang. Van ervare tot jong skrywers het deelgeneem:  die oudste is 80 en die jongste 10 jaar oud!

Elizbe van der Colff, ’n “betrokke ma van drie kinders” is gister as algehele wenner aangewys  met haar liefdesverhaal Snowy de Wit en die sewe smurfies.  Sy het ook haar kinders en hulle maats aangespoor om vir die kompetisie in te skryf deur ’n kort kreatiewe skryfkursus vir hulle aan te bied.

Sy wen ’n e-leser, ’n Kalahari-geskenkbewys EN haar storie word in die Kliekclick-wenbundel gepubliseer op die Kliekclick-webwerf  (www.kliekclick.co.za) wat vanaf 1 Augustus 2014  beskikbaar sal wees.

 Die Kliekclick-webwerf  (www.kliekclick.co.za)

  • Hier sal kinders Afrikaanse stories in epub en mobi-formaat  kan aflaai op hulle selfone, rekenaars, tablette en e-lesers teen baie bekostigbare pryse: van R5,00 tot R15,00 per storie.
  • Daar sal weekliks nuwe stories beskikbaar gemaak word.
  • Daar sal ook elke week ’n gratis storie op die webwerf verskyn.

 Vier eerste pryse in die onderskeie kategorieë is ook toegeken.

Die volgende deelnemers ontvang elk ’n Kalahari-geskenkbewys, en hulle stories word ook in die Kliekclick-wenbundel gepubliseer.

  • Die kat kom weer (bangmaakstorie) deur Susan Goosen, ’n ma van drie wat woon in ’n wildtuin in Zululand en al vir so 10 jaar vryskut-skryfwerk doen. Sy en haar kinders is versot op lees!
  • Tina en die toerkaptein (liefdesverhaal) deur Jaomi Zeeman, oud-onderwyseres, ma van drie dogters, huishoudster, tuinier, taxibestuurder, gourmet kok en “under cover” skrywer.
  • Moord op vakansie (snaakse storie) deur Moryn Hanzen, wat gedurig stories om haar in haar geliefde Kalahari-land met sy wye verskeidenheid mense, diere en besoekers sien, ruik, voel, hoor en droom en beleef en wat verwonderd is oor haar lewe daar.
  • Dit is tyd deur Retief Scholtz (snaakse storie/avontuur), ’n jong skrywer wie se vingers jeuk om meer te skryf oor ‘Zander’ se avonture.

Die volgende stories verdien spesiale vermelding:

Hulle het nie in een van die kategorieë geval nie, maar was te goed om nie te noem nie. Die verhale verskyn ook in die Kliekclick-wenbundel.

  • Die muntstuk deur Zelda Dalling.
  • Die marsmaankind deur Elizabeth Wasserman wat elke maand ’n brief van Mars af vir Kliekclickers gaan skryf.
  • Om anders te wees deur Melodie Veldhuizen.

 Kliekclick se doel is:

  • om kinders te laat ervaar hoeveel pret dit is om te lees deur:
    • stories te plaas wat hulle kan geniet op die media wat hulle gebruik

en hulle die geleentheid te gee om die stories wat hulle lees, self te evalueer

  • om alle Afrikaans skrywers – van piepklein tot stokoud – ’n publikasiegeleentheid te gee.

Kliekclick  gebruik ’n sosiale uitgewersmodel wat beteken dat:

 

  •                 stories uit die gemeenskap kom
  •                 stories beoordeel en gratis geredigeer en versorg word deur ervare personeel
    skrywers geld verdien as hulle stories op die platform gepubliseer word
  •                 skrywers onmiddellike terugvoer kry oor die lesers se beoordeling van hulle stories
    skrywers meer geld verdien hoe beter hulle hulle eie stories en Kliekclickers s’n bemark
  •                 die heel beste stories periodiek in baie bekostigbare gedrukte formaat verskyn.

Alle skrywers is beskikbaar vir onderhoude. Kontak ons gerus in die verband.