Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Alta Cloete

@ Sunday Times Books LIVE

Split – Debbie Loots

SplitSplit is die oënskynlik gewone verhaal van ‘n gewone stedelike  gesin in die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu. Dié van ons wat daardie tyd self beleef het, herken onsself en ons mense in die lewenswyse wat so treffend geskilder word dat jy jou kan verbeel jy is regtig weer in daardie tydvak. Die kleredrag, die hare, die meubels, die musiek, die motors, alles weerspieël daardie tyd. Dié van ons wat te jonk is om te onthou, kan lees en weet dis waar ons vandaan kom, of ons nou daarvan hou of nie.

Kyk ‘n  mens ‘n bietjie dieper, sien jy die bedrieglik eenvoudige storie is eintlik die verhaal van die Afrikaner van daardie tydvak en kan jy dit in perspektief plaas. Corlia Fourie se splinternuwe Tussen heinings is ‘n goeie boek om na Split te lees. Hier sien ons die stedelike Afrikaner ‘n stuk of dertig, veertig jaar later en kan mens mooi sien hoeveel veranderinge in die samelewing en in die land plaasgevind het. Die vroue in Tussen Heinings is die bevryde nageslag van Split se vroue, maar helaas het die bevryding ook teen ‘n prys gekom.

Die moderne leser kan in die versoeking kom om vir Vera en haar dogter Lien en die mense wat hulle omring, as agter die klip of doodgewoon dom te beskou. Van buite gesien is dit maklik om hulle te veroordeel vir die rits onderdagte besluite en die ooglopende swak keuses wat gemaak word. Maar mettertyd ontwikkel jy empatie met die karakters, begin jy verstaan hulle is maar net produkte van hulle tyd, elkeen op sy of haar eie manier.

Hoewel die storie uit die wisselende perspektief van twee mans (Vera se mans, Willem en Hendrik) en twee vroue (Vera en haar dogter Lien) vertel word, is dit die vroue wat hierdie (vroulike) leser sal bybly. Sowel Vera as Lien het die behoefte om uit die bekende lewenswyse weg te breek, maar val uiteindelik maar weer by die bekende patrone in, waar hulle geluk eintlik gedefinieer word deur die man aan hulle sy. Veral Vera se onkunde aangaande haar eie seksualiteit raak die hedendaagse leser diep. Willem se geskokte reaksie op die boeke oor seks wat sy lees, is verstommend, maar vir daardie tyd heeltemal realisties. Lien kry groter kanse en trou nie meer met die man wat haar “in die moeilikheid gebring” het nie, maar haar gefladder van een verhouding na die volgende, haar vasklou aan mans wat reeds uitgekuier is met haar, toon haar onderliggende gebrek aan ‘n eie identiteit.

Willem en Hendrik is eweneens ook maar produkte van hulle tyd. Willem die hartebreker met skreiende dubbele standaarde waar dit mans en vrouens aangaan, Hendrik die doodgoeie vaderfiguur wat darem te koppig (of oningelig) is om behoorlik na sy gesondheid om te sien. Hulle probeer nie eens uit hulle rolle losbreek nie, waar die vroue wel droom oor ‘n beter lewe, maar telkens hulle kanse verspeel.

Die uitsigloosheid van die karakters se bestaan kan nogal neerdrukkend raak, tot mens die verborge humor in hulle situasies raaksien, al is dit dan dikwels galgehumor. Hierdie leser se persoonlike gunsteling is waar Willem die (amper) naakte waarheid oor Poppie se swierige krulle ontdek. Poppie is ook die een karakter wat baie eendimensioneel uitgebeeld word en van wie se innerlike lewe ons nie veel agterkom nie. (Dis nou as sy ooit so iets gehad het). Mens voel eintlik haar uiteindelike verraad is Willem se verdiende loon, maar jy kry hom tog ook jammer in sy totale onbegrip oor hoe sy hom, spierpaleis wat hy is, vir sy plaasvervanger kon verruil.

In die laaste gedeelte van die boek begin mens egter weer vir Lien hoop kry. Haar soeke na ‘n eie identiteit word aangrypend uitgebeeld en sy groei tot ‘n mate van insig in haarself. Wanneer uitkoms uit haar huidige situasie ironies genoeg deur haar ma aan haar gebied word, het sy egter nie die  vertroue om dit dadelik aan te gryp nie en kom sy met die een verskoning na die ander. Persoonlik sou ek graag die boek wou afsluit met ‘n bietjie meer sekerheid dat sy hierdie keer wel haar drome sal verwesenlik, maar ek dink tog mens kan redelik gerus wees oor haar. J

Brenda verteenwoordig die vrou wat losgebreek het uit die voorgeskrewe boksies en leef soos sy verkies. Sy is dan ook die een wat die moeilike Lien as kind aanvaar en haar andersheid aanmoedig, terwyl sy vir haar ouers net ‘n verleentheid en bekommernis is. Van aanmoediging met haar kunstalent is daar in Lien se kinderjare geen sprake nie. Die kunswerk met die matras word later ‘n simbool van haar verspeelde kanse, die één unieke skepping wat sy tot stand gebring het. Haar latere onvermoë om van die ou matras te skei, gee die leser die gevoel daar is nog ‘n ietsie van die droom lewend in haar. Uiteindelik is dit dan ook Brenda wat aan die ouer Vera ‘n heenkome bied en haar aanmoedig om Lien nog ‘n kans te bied.

Uiteindelik is Split vir my die verhaal van mense wat in die tydsgees waarin hulle lewe vasgevang word. Party ploeter maar net voort, ander probeer op allerhande maniere (drank, verhoudings) van die daaglikse sleur ontsnap, ander wend daadwerklike pogings aan om uit te breek. Almal ontdek presies hoe moeilik dit is om een soort lewe vir ‘n ander te verruil.

Split teken ‘n vergange tyd, maar is ook aktueel in ‘n land waar duisende (miljoene?) mense (en veral vroue) steeds in verouderde rolle vasgevang is en dit amper onmoontlik vind om uit te breek. Soos vir Vera en Lien, is voortydige swangerskappe vandag steeds ‘n werklikheid met ‘n klomp sosiale en ekonomiese gevolge, waaronder die hartseer feit dat die meeste meisies wat vroeg swanger raak, se skoolloopbaan net daar tot ‘n einde kom.

            Split kan deur oud en jonk of verskeie vlakke geniet word. Lees dit – en onthou. Of lees dit – en besluit of ons vandag werklik beter af is Vera en Lien en hulle mense.

 

Please register or log in to comment