Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

Alta Cloete

@ Books LIVE

Seisoen van genade: Ontmoet vir Karla

Karla du Preez is ‘n bondel komplekse. Op die oog af lyk sy nie juis na ‘n geskikte hoofkarakter vir ‘n inspirerende liefdesroman nie.

Sy is pragtig, maar besef dit nie regtig nie (wat dalk ‘n goeie ding is – wie wil nou met ‘n windgat hoofkarakter opgeskeep sit?).

Sy is nie gewoond om haar emosies te wys nie, want in haar grootwordhuis word dit nie gedoen nie. Daar hou jy jou mond en doen jou werk. En oor die verlede karring jy glad nie. Maar nou sukkel sy om werklik met mense kontak te maak en voel sy dikwels afgesny en eensaam.

Vir werk is sy beslis nie bang nie. Maar gaandeweg besef sy dan moet dit die regte werk wees. Want as jy op die verkeerde plek jou kragte inspan, help dit jou op die lange duur ook nie veel nie.

Sy wil bitter graag ‘n verskil maak. Dis tog een van die redes waarom sy uit Australië teruggekom het. Soos sovele expats moes sy en haar ouers ook agterkom jy laat ongelukkig nie al jou probleme hier agter as jy emigreer nie. Nee, dié wat binne-in jou lê, neem jy teen wil en dank met jou saam. Maar nou is sy terug – en dit voel nie of die land haar verwelkom nie. Haar baas is ontoeganklik, selfs anagonisties, die kultuur en die taal vir haar vreemd. Haar kollegas vorm hul eie kliek, sy word nie ingesluit nie. Haar sterk werksetiek is nie altyd heeltemal in pas met hoe dinge in die Nuwe SA se staatsdiens gedoen word nie, haar terughoudendheid word as koudheid gesien.

En sy is bang. Sy is skrikkerig om te gaan draf, want die middedorp is nie meer veilig nie. Sy is eensaam in haar woonstel in die effens bedenklike blok, want sy het nie die vrymoedigheid om sommer enigeen oor te nooi nie.

Sy verlang na haar ouers – maar sy wil nooit weer saam met hulle en soos hulle lewe nie. Sy verlang na Ian, maar sy kon ook nie langer in die verhouding bly nie. En oor die ware rede daarvoor wil sy nie eens waag om te dink nie.

Is daar hoop vir Karla? Ja, daar is hoop – en nie net in die vorm van die bekkige Chris nie. Want Karla beskik oor veel meer innerlike krag as wat sy self besef. Dis kos natuurlik ‘n krisis om haar daarvan bewus te maak.

Seisoen van genade is by bekende boekwinkels en op die internet beskikbaar. Dit is die eerste boek in wat hopelik ‘n reeks van vier sal word. In die Seisoen-reeks word gefokus op die jonger karakters wat in die Geur-boeke voorgekom het.

 

Please register or log in to comment