Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Alta Cloete

@ Sunday Times Books LIVE

Peet Venter: 75 en fluks aan die skryf!

Lempeet venter word 75Peet Venter was op Saterdag, 3 Oktober 2015 vyf en sewentig.

Venter debuteer in 1978 met Die alleenlopers. Elf publikasies volg totdat LAPA Uitgewers in 2012 die roman Dieper as die bloed in ’n baie verwerkte weergawe heruitgee. In hierdie roman leer die leser vir Thys Krige ken. Dit was egter met die koms van die volgende roman in 2013, Ou bloed, en Thys se hertoetrede tot die Afrikaanse boekbedryf, dat Venter skielik deur die publiek en die kritici raakgesien is. Sedertdien was die naam Peet Venter reeds 33 keer op Nielsen Bookdata se topverkoperlys vir fiksie; waar hy meeding met oorsese skrywers én plaaslike topverkopers.

Nog drie boeke deur Peet Venter verskyn daarna by LAPA: Waar boosheid broei en Plasenta met Thys Krige in die hoofrol en vroeër vanjaar Lem, met ’n oud-spesmaglid, Lemmer Bosman, as hoofkarakter. Peet skryf steeds en daar is nog boeke op pad.

Ingenieur, musikant, skilder en skrywer: Venter is ’n besondere mens. Hy praat nie baie in die openbaar nie, maar deur sy karakters wel.

As ingenieur was hy uiters suksesvol. In ’n onlangse onderhoud met Izak de Vries het hy gesê: “Mense aanvaar die hysbakke, roltrappe, lugversorging, elektrisiteit, kommunikasie, water, riolering, brandbeveiliging as vanselfsprekend. Hulle is reg. Maar ek weet ek het dit daar vir hulle gesit – vir hulle gemak en veiligheid.”

Iets van hierdie geheime, interne passie bestaan in ook sy skryfwerk: “Deesdae laat ek liewer my karakters vir my praat. Dis veiliger, jy weet? Dis nie ek wat so gesê het nie! Dis daai windgat in die storie.”

Gedurende dieselfde onderhoud het Venter aan Carla van der Spuy gesê: “Daar is heelwat van my in Krige. Die stil geaardheid, die denker, die keuse om afgesonderd in die natuur te woon en die onwrikbare geloof in geregtigheid. Miskien verskil ek van hom wat die geweld betref, maar as ek deesdae so na die nuus kyk, is ek ook nie meer altyd so seker daarvan nie. Daarom dat ek ’n afleier soos hy het.”

Petrus Venter is op 3 Oktober 1940 op Krugersdorp gebore as die jongste van ’n groot gesin. Dit het ’n invloed op sy skryfstyl gehad, daarom skryf hy so filmies, vertel hy. As jongste seun moes Peet vinnig groot word: “En dan moet jy verskriklik oortuigend kan lieg. Jy moet in Pixar kan lieg. Dit, as die jongste van vier seuns, het ek vroeg in my lewe geleer.”

Peet Venter se ATKV-skrywersalbum is hier te kry: http://www.litnet.co.za/peet-venter-1940/

* * *

Venter se laaste vyf boeke is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.

Die outeur, ’n man van min woorde, is wel beskikbaar vir onderhoude.

Persvrystelling deur Izak de Vries.

 

Split – Debbie Loots

SplitSplit is die oënskynlik gewone verhaal van ‘n gewone stedelike  gesin in die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu. Dié van ons wat daardie tyd self beleef het, herken onsself en ons mense in die lewenswyse wat so treffend geskilder word dat jy jou kan verbeel jy is regtig weer in daardie tydvak. Die kleredrag, die hare, die meubels, die musiek, die motors, alles weerspieël daardie tyd. Dié van ons wat te jonk is om te onthou, kan lees en weet dis waar ons vandaan kom, of ons nou daarvan hou of nie.

Kyk ‘n  mens ‘n bietjie dieper, sien jy die bedrieglik eenvoudige storie is eintlik die verhaal van die Afrikaner van daardie tydvak en kan jy dit in perspektief plaas. Corlia Fourie se splinternuwe Tussen heinings is ‘n goeie boek om na Split te lees. Hier sien ons die stedelike Afrikaner ‘n stuk of dertig, veertig jaar later en kan mens mooi sien hoeveel veranderinge in die samelewing en in die land plaasgevind het. Die vroue in Tussen Heinings is die bevryde nageslag van Split se vroue, maar helaas het die bevryding ook teen ‘n prys gekom.

Die moderne leser kan in die versoeking kom om vir Vera en haar dogter Lien en die mense wat hulle omring, as agter die klip of doodgewoon dom te beskou. Van buite gesien is dit maklik om hulle te veroordeel vir die rits onderdagte besluite en die ooglopende swak keuses wat gemaak word. Maar mettertyd ontwikkel jy empatie met die karakters, begin jy verstaan hulle is maar net produkte van hulle tyd, elkeen op sy of haar eie manier.

Hoewel die storie uit die wisselende perspektief van twee mans (Vera se mans, Willem en Hendrik) en twee vroue (Vera en haar dogter Lien) vertel word, is dit die vroue wat hierdie (vroulike) leser sal bybly. Sowel Vera as Lien het die behoefte om uit die bekende lewenswyse weg te breek, maar val uiteindelik maar weer by die bekende patrone in, waar hulle geluk eintlik gedefinieer word deur die man aan hulle sy. Veral Vera se onkunde aangaande haar eie seksualiteit raak die hedendaagse leser diep. Willem se geskokte reaksie op die boeke oor seks wat sy lees, is verstommend, maar vir daardie tyd heeltemal realisties. Lien kry groter kanse en trou nie meer met die man wat haar “in die moeilikheid gebring” het nie, maar haar gefladder van een verhouding na die volgende, haar vasklou aan mans wat reeds uitgekuier is met haar, toon haar onderliggende gebrek aan ‘n eie identiteit.

Willem en Hendrik is eweneens ook maar produkte van hulle tyd. Willem die hartebreker met skreiende dubbele standaarde waar dit mans en vrouens aangaan, Hendrik die doodgoeie vaderfiguur wat darem te koppig (of oningelig) is om behoorlik na sy gesondheid om te sien. Hulle probeer nie eens uit hulle rolle losbreek nie, waar die vroue wel droom oor ‘n beter lewe, maar telkens hulle kanse verspeel.

Die uitsigloosheid van die karakters se bestaan kan nogal neerdrukkend raak, tot mens die verborge humor in hulle situasies raaksien, al is dit dan dikwels galgehumor. Hierdie leser se persoonlike gunsteling is waar Willem die (amper) naakte waarheid oor Poppie se swierige krulle ontdek. Poppie is ook die een karakter wat baie eendimensioneel uitgebeeld word en van wie se innerlike lewe ons nie veel agterkom nie. (Dis nou as sy ooit so iets gehad het). Mens voel eintlik haar uiteindelike verraad is Willem se verdiende loon, maar jy kry hom tog ook jammer in sy totale onbegrip oor hoe sy hom, spierpaleis wat hy is, vir sy plaasvervanger kon verruil.

In die laaste gedeelte van die boek begin mens egter weer vir Lien hoop kry. Haar soeke na ‘n eie identiteit word aangrypend uitgebeeld en sy groei tot ‘n mate van insig in haarself. Wanneer uitkoms uit haar huidige situasie ironies genoeg deur haar ma aan haar gebied word, het sy egter nie die  vertroue om dit dadelik aan te gryp nie en kom sy met die een verskoning na die ander. Persoonlik sou ek graag die boek wou afsluit met ‘n bietjie meer sekerheid dat sy hierdie keer wel haar drome sal verwesenlik, maar ek dink tog mens kan redelik gerus wees oor haar. J

Brenda verteenwoordig die vrou wat losgebreek het uit die voorgeskrewe boksies en leef soos sy verkies. Sy is dan ook die een wat die moeilike Lien as kind aanvaar en haar andersheid aanmoedig, terwyl sy vir haar ouers net ‘n verleentheid en bekommernis is. Van aanmoediging met haar kunstalent is daar in Lien se kinderjare geen sprake nie. Die kunswerk met die matras word later ‘n simbool van haar verspeelde kanse, die één unieke skepping wat sy tot stand gebring het. Haar latere onvermoë om van die ou matras te skei, gee die leser die gevoel daar is nog ‘n ietsie van die droom lewend in haar. Uiteindelik is dit dan ook Brenda wat aan die ouer Vera ‘n heenkome bied en haar aanmoedig om Lien nog ‘n kans te bied.

Uiteindelik is Split vir my die verhaal van mense wat in die tydsgees waarin hulle lewe vasgevang word. Party ploeter maar net voort, ander probeer op allerhande maniere (drank, verhoudings) van die daaglikse sleur ontsnap, ander wend daadwerklike pogings aan om uit te breek. Almal ontdek presies hoe moeilik dit is om een soort lewe vir ‘n ander te verruil.

Split teken ‘n vergange tyd, maar is ook aktueel in ‘n land waar duisende (miljoene?) mense (en veral vroue) steeds in verouderde rolle vasgevang is en dit amper onmoontlik vind om uit te breek. Soos vir Vera en Lien, is voortydige swangerskappe vandag steeds ‘n werklikheid met ‘n klomp sosiale en ekonomiese gevolge, waaronder die hartseer feit dat die meeste meisies wat vroeg swanger raak, se skoolloopbaan net daar tot ‘n einde kom.

            Split kan deur oud en jonk of verskeie vlakke geniet word. Lees dit – en onthou. Of lees dit – en besluit of ons vandag werklik beter af is Vera en Lien en hulle mense.

Nuut: US Woordfees Leeskring skop af!

KostalgieDie Universiteit Stellenbosch Woordfees bied met trots aan: US Woordfees stel eie leeskring bekend!

Die eerste US Woordfees Leeskring vind op 18 September plaas. Skrywer, joernalis en kosfundi Barbara Joubert (van Sarie en Sarie Kos) deel die stories agter haar nuwe boek Kostalgie met Madri Victor. Barbara roem haar daarop dat sy ʼn nuwe gereg kan proe voorddat sy dit maak. Klotalgie is ʼn nostalgiese reis deur lande soos Protugal, Frankry en Brittanje, maar ook die Karoo-kombuis van haar jeug.

Bespreek vir die eerste byeenkoms by http://online.computicket.com/web/event/boekklub_barbara_joubert/957962936/0/67992104

Op 29 Oktober gesels Madri Victor met Alta Cloete oor Opdrag van Oorkant. Theresa Beyers se ontroue eksman gee as’t ware sy laaste opdrag van oorkant die graf: al die vroue in sy lewe – en daar was ʼn hele paar – moet deelneem aan die publisiteitstoer vir sy outbiografie. ʼn Resep vir konflik en drama!
Op 26 November vertel Johan Fourie, skrywer van Struisvoël, aan Madri Victor meer oor sy debuutroman. Op die plaas Vrede, langs die Gamkarivier in die Klein-Karoo, spoel drie kinders op 16 Desember 1880 soos opdrifsels uit. In die Blanckenbergs se plaaskombuis ontstaan op hierdie dag ʼn verbintenis tussen Klein Sarel, Victoria en Marja, ʼn voorbeskikte lot wat ʼn leeftyd sou duur.
“Die US Woordfees is ʼn wonderlike kuierplek vir boekmense; nou is daar elke maand so ʼn boekkuier om na uit te sien,” vertel ʼn opgewonde Victor.

Woon die US Woordfees Leeskringe by!
Waar: Weltevreden, langs Welgevonden-landgoed op die R304 buite Stellenbosch
Wanneer: 18 September – Barbara Joubert, Kostalgie
29 Oktober – Alta Cloete, Opdrag van Oorkant
26 November – Johan Fourie, Struisvoël
Koste: R60, koffie/tee en koek ingesluit
Besprekings: Computicket

Vir meer inligting of om ʼn onderhoud te reël, kontak vir Madri Victor, die Woordfees se Skrywersfees-koördineerder by madrivictor@sun.ac.za of Frieda le Roux by 082 742 4156 of friedaleroux@sun.ac.za.

Kodenaam Icarus – Henk Breytenbach

Kodenaam-Icarus Henk BreytenbachVic Nel is nie die deursneespeurder van soveel spanningsromans – ‘n gekwelde siel met drank- en huweliksprobleme wat juis vanweë sy menslikheid lesers se verbeelding aangryp – nie. Nee, Vic het alreeds daardie grense oorgesteek en hy het eintlik niks meer om te verloor nie. Daar is onskuldige bloed aan sy hande en klaarblyklik nie meer veel gevoel in sy hart nie.

Die storie word relevant vir vandag gemaak deur Vic se verlede – voor 1994 – wat sekerlik geen mens van vlees en bloed onaangeraak kan laat nie. Die karakter Vic – die ‘uithaler’ van ‘ongewenstes’ voor 1994 – moet nou in die Nuwe Suid-Afrika ‘n sinvolle lewe probeer aanmekaarsit. Dit laat mens onwillekeurig wonder oor soveel (blanke Afrikaner-)mans wat ‘n nuwe rol moes vind na die eerste demokratiese verkiesing. Goeie mense wat met die oogklappe van apartheid grootgeword het binne ‘n bestel waar van jou verwag is om bevele uit te voer en onafhanklike denke nie noodwendig aangemoedig is  nie. Soldate, regeringsamptenare, vele ander gesigloses. Dit sou interessant wees om te kon vasstel hoeveel hedendaagse misdaad aan soortgelyke karakters as Vic se stryd om oorlewing gekoppel kan word. Natuurlik kan  mens maar net spekuleer hieroor.

Vic verdien met die aanvang van die boek sy brood en botter (en drank) in die skadudeel van die stad deur as lyfwag vir prostitute op te tree. Die uitbeelding van die meisies is vir hierdie vroulike leser van die treffendste aspekte van die andersins baie ‘manlike’ boek. Dinge loop egter skeef en stuur sy lewe in ‘n nuwe rigting. In die proses word ‘n hele aantal nuwe karakters aan weerskante van die spektrum van geregtigheid bekend gestel. Hier is nie veel sprake van tradisionele ‘goeie’ en ‘slegte’ karakters nie; hierdie ‘helde’ ken almal die donker kant van die lewe en niemand se motiewe is baie suiwer nie.

Kodenaam Icarus is ‘n spanningsroman vol aksie, met nie veel klem op  die persoonlike ontwikkeling of emosionele lewe van die karakters nie. Die belangrikste karakters is harde manne met ‘n robuuste woordeskat wat nie vir geweld skrik nie.

Die einde laat die moontlikheid van ‘n opvolg oop en lesers wat Kodenaam Icarus geniet het, kan hopelik uitsien na nog avonture van Vic Nel.

 

Debora en seuns – Helene de Kock

Debora en seunsHelene de Kock is ‘n gevestigde en geliefde skrywer in Afrikaans en voorsien al jare lank in die behoeftes van diegene op soek na ‘n storie wat lekker lees, maar die leser ook laat dink. Met die historiese roman Debora en seuns doen sy dit weer. Hoewel die milieu waarin haar verhale afspeel altyd sentraal gestaan het (dikwels die Oos-Vrystaat en in die verlede ook dikwels Nederland), word dit na die voltooiing van haar doktorale studie oor die rol van milieu in die romankuns nog meer prominent.

Die titel verwys terselfdertyd na die winkel Debora en seuns en na die gesin Schlagerfeldt. Die lotgevalle van die gesin en die winkel is dan ook onlosmaaklik verweef.

Die plattelandse lewe in ‘n konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap van die dertigerjare van die vorige eeu word in fyn detail geteken. Die wisseling van die seisoene, die reuke en klanke van die omgewing werk mee om ‘n besondere atmosfeer aan die roman te verleen. Veral die verwerking van die vrugte uit die dorpstuin en die verskeidenheid gewone en minder gewone gebak wat in die winkel verkoop word, word so lewend geteken dat die leser haarself naderhand verbeel sy kan die laventel en vrugtegeure regtig ruik.

Die verhaal word vertel uit die oogpunt van die jong Margot, dogter van die “weduwee” Susan Scott wat vanweë haar wyer lewenservaring en algemene kennis nie heeltemal by die gemeenskap inpas nie. Debora Schlagerfeldt en haar gesin staan nog meer op die rand van die konserwatiewe gemeenskap. Hulle vaagheid oor hulle verlede en die trotse manier waarop hulle hulle gang gaan, bring mee dat ‘n soort misterie om hulle geweef word, ook in die jeugdige Debora se gemoed. Aanvanklik dien die Schlagerfeldts hoofsaaklik as katalisators vir Margot se persoonlike ontwikkeling en die verruiming van haar denke. Mettertyd word hulle onlosmaaklik deel van haar lewe en moet hulle ook verskeie ingrypende veranderinge hanteer.

Die Tweede Wêreldoorlog bring ‘n einde aan die (oënskynlike) plattelandse idille. In die hegte gemeenskap word andersdenkendes nie simpatiek bejeën nie en staan die Scotte en die Schlagerfeldts alreeds op grond van hulle vanne onder verdenking. Onvermydelik word die twee gesinne se lotgevalle verweef en mettertyd vind Margot dat sy meer en meer deel word van die lewe in die Victoriaanse huis aan die bopunt van hulle straat. Geleidelik leer sy die geheime van die seuns ken en eindelik ook dié van herr Dieter, stilswyend in sy rolstoel. In die proses leer sy ook die liefde ken en maak sy ‘n ingrypende keuse wat haar ver buite haar vertroude en beskermende kring laat beland.

Wanneer die fokus na die gebombardeerde Londen verskuif, word die milieu met soveel sorg geteken dat die leser ook hier ingetrek word en deel word van die Londenaars se lotgevalle. Margot verloor finaal haar kleindorpse onskuld en leer oorlog (en liefde) in al sy felheid ken.

Veral twee van die drie Schlagerfeldt-seuns maak ‘n keuse vir ‘n lewensmaat wat nie inpas by die geslote aard van die Afrikaanse gemeenskap nie en daag die bestaande norme uit. Die invloed van oorlog om bestaande strukture in gedrang te bring, word duidelik uitgebeeld in elkeen se hantering van die komplikasies en implikasies van hulle keuses.

Die tekening van die rol van die swart bediendes in Margot se lewe moet teen die agtergrond van die tyd gesien word. Hoewel dit voor die amptelike instelling van apartheid was, was klasseverskille op grond van ras diep gewortel in die wyer Suid-Afrikaanse samelewing, nie slegs by die Afrikaanse deel daarvan nie. Ten spyte van die hiërargie was (en is) daar dikwels groot lojaliteit en toegeneentheid tussen werkgewer en werknemer, hoewel sosiale interaksie en veral liefdesverhoudings op daardie stadium feitlik ondenkbaar was. Die alternatiewe keuses wat die Schlagerfeldt-seuns binne die wit gemeenskap maak, was alreeds ‘n uitdaging van die bestaande norme.

Verskeie temas word in die verhaal tot ‘n harmonieuse geheel verweef. Dit kan as ‘n soort coming of age-verhaal gesien word wat die ontwikkeling van Margot van tiener tot volwasse vrou boekstaaf. Mettertyd leer sy om ‘n verskeidenheid mense se keuses te verstaan en te aanvaar en leer sy wyer dink, tot waar sy self ‘n ingrypende keuse kan maak en deurvoer sonder die medewete en hulp van haar beskermende kring. Terselfdertyd word die krag van groepdenke en haar stryd om ‘n eie identiteit belig. Die ontwrigtende invloed van oorlog, selfs al gebeur dit op ‘n ander kontinent, blyk duidelik in die verskeurdheid wat in die gemeenskap ontstaan. (Vir Nederlandse lesers: Baie Afrikaners het in WOII outomaties teen Engeland en dus vir Duitsland gekies weens die voortslepende bitterheid oor veral die behandeling van vroue en kinders in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Hulle lojaliteit het dus grootliks op emosie berus en nie op feitelike inligting oor bv. Hitler se vergrype nie. Diegene wat wyer gedink en vír Engeland gekies het, is dikwels met agterdog bejeën en die kwessie het gemeenskappe pynlik verdeel.) Die rol van die klassieke outsider word veral deur Debora beliggaam, maar ook tot ‘n mate deur haar seuns en deur Margot en haar ma. Die behoudende Afrikaners word redelik ongunstig as uiters konserwatief en paternalisties geskets, hoewel daar veral by die karakter van Casper pogings tot balans is. Die verhaal kon egter ‘n meer gebalanseerde beeld van die problematiek van die Suid-Afrikaanse samelewing gebied het as ook die eng deel van die gemeenskap se motivering en dryfvere duideliker uitgelig is.

Debora en seuns is nie ‘n aksiebelaaide verhaal wat tot ‘n dramatiese einde opbou nie, maar eerder ‘n familiesage waar die los drade teen die einde netjies vasgeknoop word. Die gegewe word net genoeg geromantiseer om die leser op soek na die goeie tevrede te stel, maar word nooit onrealisties nie. Margot is wel die romantiese hoofkarakter wat vele mans se harte aanraak, maar haar persoonlike ontwikkeling strek ver verby die bloot romantiese ervaring van ‘n groot liefde in oorlogstyd. Daar is wel die suggestie dat die ietwat stram Marnitz verander as gevolg van haar liefde en die terughoudendheid wat hy van kleinsaf in sy gesin aangeleer het tot ‘n mate aflê, maar dis nie ‘n onrealistiese beeld van ‘n vrou wat ‘n man na haar smaak verander nie en word as ‘n groeiproses oor ‘n lang tydperk aangebied.

Vir hierdie leser simboliseer die reuke van laventel en kordiet die twee pole van Margot se lewe, die twee werklikhede wat sy uiteindelik bymekaar moet uitbring en waarbinne sy haar lewe moet voortsit. Uiteindelik word dit dan ook simbool van die lig en die donker waartussen die meeste van ons op een of ander stadium moet kies, op watter vlak dan ook al.

Die oorspronklike artikel is hier te kry: http://www.maandbladzuidafrika.nl/node/244

‘n Lekker debuut: Gelyke kans – Santie van der Merwe

Gelyke kansDie dae van voorspelbare liefdesverhale oor die wel en wee van beeldskone, maar effense patetiese heldinne en lang , donker helde (tall dark and hands all over – en meestal manne van min woorde) is genadiglik in Afrikaans verby. (Nie dat daar nie ook ‘n saak uit te maak is vir ‘n mate van voorspelbaarheid nie, want die tipiese leser van romantiese fiksie – as daar so iemand bestaan – wil verseker wees die tweetjies gaan wel bymekaar uitkom. Vir Afrikaanse lesers is daar deesdae volop romanses te kry, wat uitsluitlik op die ontwikkeling van die liefdesverhouding konsentreer en nie aandag gee aan die gewone klein en groot ellendes van die lewe nie. Maar ook hierdie stories is deesdae baie meer realisties as ‘n halfeeu gelede, al is daar by die romanse steeds ‘n aspek van fantasie betrokke.)

In Afrikaanse liefdesromans is die hoofkarakters deesdae dikwels nie meer bakvissies of snuiters nie en vlekkeloos en foutloos is hulle beslis nie. Nee, dit word vir die moderne leser al hoe makliker om met die karakters te identifiseer, want helaas is min van ons mos maar jonk, beeldskoon en volmaak. Aansluitend by hierdie neiging is daar die verskynsel dat romantiese fiksie ook oor getroude pare geskryf kan word. Niemand – behalwe miskien ‘n paar gelukkige siele – glo immers meer in die happy ever after konsep nie. En vir lesers is dit toenemend lekker om te lees oor karakters met wie hulle volkome kan identifiseer. Dit sluit myns insiens aan by die neiging van ouer vroue om hulself, hulle liggame en hul ouderom te aanvaar en steeds voluit te leef en lief te hê, al het swaartekrag alreeds sy tol begin eis. En ja, ouer persone het nog seks. En mag dit selfs geniet. Ook die kamerdeur van getroude pare is nie meer ‘n ondeurdringbare skans nie. Daarby word die manne ook deesdae ‘n woordjie gegun en word ‘n deel van die verhaal dikwels uit hulle oogpunt vertel.

Kristel Loots is met onder andere Katerina se mojo ‘n voorloper in hierdie opsig. Huweliksprobleme – en selfs die derde persoon wat ongelukkig soms betrokke raak – word in hierdie boeke op ‘n ligte en romantiese en met haar kenmerkende humor vir lesers verteerbaar gemaak.

Santie van der Merwe sluit met haar debuutroman, Gelyke kans, by hierdie neiging aan. Anton en Jessica is nie meer kuikens nie en oënskynlik gelukkig getroud. Hulle kinders het die nes verlaat en Jessica het dit – soos ma’s maar maak – na ‘n aanvanklike donker tyd oorleef. En dan val Anton vir ‘n jong bokkie en die hele kaartehuis tuimel inmekaar.

Een van die lekkertes van die verhaal is dat almal wie se lewens intens hierdeur geraak word, se ervaring op geloofwaardige wyse aangespreek word. Die ontroue eggenoot, die paartjie se kinders sowel as die meisie by wie hy betrokke raak, word genuanseerd geteken. Niemand is volmaak reg of volkome verkeerd nie. Elkeen reageer volgens sy of haar persoonlikheid.

Die vraag is natuurlik of die huwelik gered kan word. En of dit werklik vir al die partye die beste opsie sou wees. Na haar aanvanklike skok vind Jessica geleidelik haar voete en begin raak dit vir haar duidelik dat sy nie noodwendig meer haar man ten alle koste wil terug hê nie. Daar is lewe na ‘n mislukte huwelik. Liefde kan, helaas, vergaan as dit nie opgepas word nie.

Of kan dit?

Die skrywer bring ‘n interessante wending in die verhaal met behulp van die belofte wat die twee vroeër aan mekaar gemaak het ten opsigte van die soort situasie waarin hulle nou beland het. Hierdie wendiing skep dan ook die geleentheid vir genoeg romanse en vir die slaapkamerdeur (en dié van ander vertrekke) om op meer as ‘n skrefie oopgedruk te word.

Kry die twee hulle huwelik gered? Nee, ek gaan jou nie sê nie! Lees gerus en vind uit. Jy sal die reis geniet.

Gelyke kans is ‘n welkome toevoeging tot Afrikaans se skat van moderne, geloofwaardige liefdesverhale en nog ‘n stappie in die proses van lekkerleesboeke (ontspanningslektuur) om hulle regmatige plek langs die letterkunde in te neem.

Katerina se mojo – Kristel Loots

Katerina se mojoMet boeke soos Lemoenseisoen, Eendagmooi en Die ander vrou het die ervare Kristel Loots haarself in ʼn nuwe nis gevestig – dié van ʼn stem om die verhaal van die moderne vrou binne die moderne huwelik te vertel. Tradisioneel eindig die liefdesroman wanneer die tweetjies teen die sonsondergang wegstap, hand aan hand en met drome in die oë. Oor die aanpassing na die konfetti en die wittebrood trek ons gewoonlik maar die sluier. Maar nie Kristel nie. Kristel pluk die kamerdeur oop en waag dit in die situasies waar die huweliksbed ʼn slagveld word, waar uiteenlopende verwagtings en die harde realiteit van Suid-Afrika goeie mense se liefdesverhale kan laat misluk.

Die belewing van die lyflike binne die huwelik vorm – soos in die werklikheid – ʼn belangrike deel van haar verhale. Hierdie stories bevestig wat moderne vroue lankal weet: Die huwelik is geen kortpad hemel toe nie en daar is nie altyd ʼn pot goud aan die einde van die reënboog nie. En die huweliksbed is nie altyd met rose bestrooi nie.

Die moderne vrou verwag baie van die huwelik. Nog nooit in die geskiedenis het individue tot so ʼn mate hulle hoop op mekaar gevestig vir bevrediging in alle opsigte nie. Dis dan ook nie ʼn wonder dat soveel huwelike vandag in egskeiding eindig nie. Ons verwagtinge is dikwels eenvoudig te hoog vir vlees en bloed om op langtermyn by te kom.

In so ʼn verhouding waar teleurstelling aan die orde van die dag is, kan ʼn vrou natuurlik haar mojo verloor. Maar wat is ʼn mojo? En hoe verloor mens dit? En hoe kry jy dit terug? In my oë is jou mojo dit wat jou jý maak, dit wat jou uniek en besonders maak, jou persoonlike bron van energie, die bron van jou persoonlike woema. Mens verloor dit wanneer jy nie in ʼn situasie is waar die beste in jou na vore kan kom nie en veral wanneer jy verbind is aan ʼn persoon wat miskien nie eens weet ʼn vrou (en ʼn man!) het so ʼn ding soos ʼn mojo nie. En jy kry dit terug deur weer beheer oor jou lewe oor te neem.

Katerina is ʼn vrou met wie vele lesers sal kan identifiseer. Sy is ʼn inherente sterk vrou met haar eie talente (waaronder ʼn eiesoortige skoonheid en ʼn lieflike humorsin), wat probeer oorleef in ʼn situasie waar sy nie meer tot haar reg kom nie. Haar man is ʼn werkslaaf en ingesluk deur die ongenaakbare werklikheid van die mediese beroep in Suid-Afrika. En dan is daar Jennifer – beeldskoon, knap en die staatmaker aan Simon se sy.

Die twee tieners in die huis maak ook nie dinge makliker nie, maar beslis interessant vir die leser. Hulle is net moeilik genoeg om kleurvolle karakters te wees, maar word nooit eenkantige karikature van werklike moderne tieners nie. En eintlik wil hulle maar net hulle ma en pa bymekaar hê.

Die kwessie van emigrasie is natuurlik so relevant as kon kom. Simon wil gaan en Katerina wil bly. So eenvoudig – maar die soort gegewe wat huwelike kan laat wankel. Soos Katerina dan ook agterkom.

Katerina se mojo is ʼn relevante en eietydse verhaal oor die afgronde wat binne die huweliksbed kan oopgaan, verskuil in ʼn lighartige jassie van gevatheid en die soort kwinkslae wat lesers al outomaties van Kristel verwag.

Moenie vir Katerina onderskat nie. Lees en word wys.

N.S. Ek dink steeds Broccoli is nie blomme nie sou die ideale titel gewees het. Hoekom? Jy sal maar moet lees en uitvind! :)

Nog lekker boekgesprekke by die Woordfees

1477457_10153045026660279_1622635136442837287_n 1908360_10153059199790279_7327134227773493858_n 10440284_10153059268335279_984860547415854127_n 10487603_10153059268175279_525563885164268687_n 10942497_10153049560375279_4230672369366353108_n

Lekker boekgesprekke by die Woordfees!

00 erfiniskos 00 ewebeeld 00 letterkunde en die liefde 00 Pleisters vir die dooies

Onder ‘n sterrehemel – Bets Smith

Onder 'n sterrehemelBets Smith kán ‘n storie vertel. Daarvan getuig haar meer as twintig boeke in verskeie genres. Maak nie saak of dit in die vorm van ‘n romanse, historiese liefdesroman of spanningsverhaal is nie, as daar ‘n storie is, kan Bets dit vertel.

Dié wat al probeer het, sal weet dit verg vaardigheid van ʼn skrywer om tussen genres te beweeg nie. Een genre beïnvloed die ander en die storie val alte maklik deur die gapings tussenin.

Onder ‘n sterrehemel is in die eerste instansie ‘n liefdesverhaal. As jy een van die ongelukkige siele is wat teen jou neus afkyk na romantiese fiksie, hou verby. Of dalk juis nie; dalk is net mooi hierdie een wat jou gaan wys wat jy heeltyd misgeloop het.

Daarby is dit ‘n outydse liefdesverhaal. Moet dus nie die vinnige verloop en stomende woema van baie moderne liefdesverhale verwag nie. Maar nee, morsdood is die tweetjies nou ook nie. Gelukkig nie.

Rudolp en Catriona het mekaar as kinders geken. Nou is hulle nie meer kinders nie. Allermins. Sy is beeldskoon en onskuldig, maar nie te onskuldig om darem so ‘n bietjie te flankeer nie. Hy is indrukwekkend, stil en sterk, maar ook nie té stil en té sterk nie. Albei kan baie goed perdry. Wanneer sy op haar perd se rug is, is Catriona nie meer skugter en onskuldig nie, dan wys sy ʼn ander kant van haar karakter. Wanneer hulle alleen in die veld beland, doen hulle wat enige normale paartjie alleen in die veld doen. Maar hulle doen dit in goeie smaak en in lyn met die waardes van hulle tyd.

Wat is die geheim van die nag toe Rudolf by haar in die grot op Ben Nevis gebly het, hy sestien en sy net agt? Hoekom is Rudolf destyds weg uit Ben Nevis, Engeland toe, en waarom moes sy kosskool toe? Dit is die vrae wat Catriona moet opklaar alvorens sy kan verstaan hoekom Rudolf haar nou vermy, ten spyte van die onmiskenbare aantrekkingskrag tussen hulle.

Onder ‘n sterrehemel is ‘n oorlogsverhaal sonder té veel oorlog, wat inpas by die aard van romantiese fiksie. Soms wil mens net nie nog een bloedige veldslag lees nie, al weet jy ook dis hoe dit was. Maar oorlog leen homself nou eenmaal tot goeie stories en veral ook wonderlike liefdesverhale. Dalk juis omdat oorlog mense polariseer en die slegste in hulle na vore bring. Want waar die slegste kant is, sal die beste kant ook verskyn. En die beste kant is die liefde.

Die storie speel hoofsaaklik in die Kolonie af, verwyder van die oorlog, maar nie verwyder van die effek daarvan nie. Al gaan die goeie lewe in die Kaap bolangs voort, word onderlinge spanning en ou wrokke stil-stil wakker en eis hul tol.

‘n Goeie liefdesverhaal het altyd ‘n gelukkige einde of eindig ten minste op ‘n punt van hoop. Hier moet ons met die hoop tevrede wees, want dis nog nie die einde van Rudolf en Catriona se verhaal nie. In Goue dagbreek sal ons binnekort die res van hulle storie kan geniet.

As jy soms ‘n bietjie sinies voel, voos van slegte nuus, ontnugter deur die lewe – lees Onder ‘n sterrehemel en glo vir ‘n paar uur weer in die goeie dinge in die lewe. En as jy daarin geslaag het om steeds ‘n romantikus te bly, is hierdie storie net die versterking wat jy nodig het.