Opdrag van oorkant
Wanneer die bejaarde boer, Theresa Beyers se eksman, die geliefde Afrikaanse skrywer Coenraad Beyers sterf, bring die ongewone versoeke in sy testament haar te staan voor die vrou vir wie hy haar verruil het. Vir albei wag daar egter ’n verrassing in die vorm van die jong en swanger Cheryl-Anne Fortuin, wat toe veel meer as Coenraad se persoonlike assistent was. Ook Anna Philander, wat oënskynlik bloot die Beyers-gesin se huishulp was, kom prominent na vore.
Met die strooi van sy as op sy geboorteplaas en die boektoer om sy outobiografie bekend te stel, word die vroue gedwing om hulle verhouding met Coenraad, hulle foute van die verlede en hulle drome vir die toekoms te konfronteer.
Die boekgesprekke word gelei deur Coenraad se uitgewer Anthonie Binedell, self bejaard en klaarblyklik ernstig siek. Aanvanklik dien hy bloot as katalisator, maar hy word spoedig dieper betrek by die vroue se komplekse verhoudings.
Ten spyte van hulle diepgaande verskille word Theresa, Anna, Lisa en Cheryl-Anne in ’n ongemaklike eenheid saamgesnoer deur die wete dat hulle deelname aan die boektoer vir Cheryl-Anne in staat stel om ’n finansiële toekoms vir haar kind te verseker. Beide Theresa en Lisa word opnuut gedwing om hulle kinderloosheid in die gesig te staar en vind ook die rede daarvoor uit.
Die skrywer ondersoek die onregverdige mag wat ’n geliefde uit die dood oor die agtergeblewenes kan hê en stel ook die vraag of almal in die Nuwe Suid-Afrika werklik al so gelyk is soos ons graag wil glo. Die tema van verganklikheid staan ook sentraal in die verhaal.
Jeanette Ferreira skryf oor Opdrag van oorkant: “Cloete se outentieke dialoog en milieuskildering blink hierin uit, so ook haar kundige fokus op die fokaliserende karakter wat tot gevolg het dat die leser uitsluitlik met Theresa identifiseer.”
Enigeen wat Alta se romans al gelees het, sal weet sy slaan kaalvuis, maar dan salf sy ook mildelik.
Daar is bitter min skrywers wat die moed het om die soort goed aan te spreek wat Alta aanspreek. Sy is ’n gloeiende voorbeeld dat lekkerlees en betrokkenheid nie van mekaar verwyderd hoef te wees nie. Die wenteling in hierdie boek kom só onverwags dat ’n mens dit nie hier wil weggee nie: Die leser moet self die openbarings beleef.
EAN: 9780799376302
Koop nou